Ons, by Overberg Agri, het ‘n wyle terug begin met gemeenskapsveiligheidsprojekte in gemeenskappe waar ons besigheid doen. Benewens die finansiële bydrae wat ons gelewer het, het ons kliënte ‘n sleutelrol gespeel om hierdie projekte deur hul vrygewigheid ‘n sukses te maak. Ons kleinhandelkliënte is gevra of hulle R2 by hul aankope wil voeg elke keer as hulle een van ons winkels besoek, en die versoek is goed ontvang. Saam met die plaaslike gemeenskappe, munisipale instansies en plaaslike owerhede het ons daarin geslaag om verkseie kameras te installeer in die verkillende gemeenskappe. Hierdie kameras het reeds ’n groot verskil gemaak aan kriminele aktiwiteite in hierdie betrokke areas.
“By Overberg Agri het ons ‘n hart vir die toekoms van die landbousektor in Suid-Afrika, en die gemeenskappe waarin ons bedrywig is, is onafskeidbaar hiervan,” sê Francois Joubert, Besturende Direkteur van Overberg Agri. “Ongelukkig is misdaad steeds ‘n pertinente kwessie in Suid-Afrika, en ons landelike gebiede is geen uitsondering nie. In reaksie op die voortdurende kommer wat deur ons werknemers en kliënte geopper word, het ons besluit om meer betrokke te raak by die bestuur van inisiatiewe wat hulle veiliger laat voel terwyl hulle met hul daaglikse roetines voortgaan,” sê Francois.
Een van die gemeenskappe wat gehelp is deur die fonds is Stanford. Die dorp se Gemeenskapspolisieforum (CPF) en die gemeenskap het ons bedank vir die borg van twee kameras vir die dorp se veiligheid. Volgens Kevin Husk, van Stanford CPF, is een op die Wortelgatpad by die ingang van Ross Poultry geïnstalleer en die tweede buite Stanford op die R43 na Raka Wine.
Husk het bygevoeg dat hierdie kameras 24/7 deur Stanford sekuriteitsdienste gemonitor word en twee blindekolle insluit waaroor die CPF en SAPD bekommerd is.
“Hoe meer ons kan doen om te verhoed dat elemente in ons area funksioneer, hoe beter. Hierdie gemeenskapsprojekte maak ‘n groot verskil en ons wil Stanford-inwoners aanmoedig om by te dra tot hierdie fonds by Overberg Agri. Kom ons ondersteun hierdie program en kry meer kameras in ons gemeenskappe,” het Husk gesê.
Volgens Willem van Zyl, Hoofinligtingsbeampte by Kaap Agulhas-munisipaliteit, het ons finansiële bydrae tot die kameras en veiligheid van die Kaap Agulhas Munisipale-omgewing ook ‘n groot impak gehad.
Hieronder is ‘n paar statistieke gebaseer op Mei 2022:
Beskrywing – Mei 2022 | Lesings | “Alerts” |
Totaal lesings op Kaap Agulhas munisipale kameras – hele area | 663 434 | |
Totaal “alerts” op Kaap Agulhas munisipale kameras – hele area | 2 842 | |
Bredasdorp Silo Kameralesings | 136 561 | |
Bredasdorp Silo Kamera-”alerts” | 565 | |
Bredasdorp Siloskameras as % van totaal | 20.58% | 19.88% |
Die “Lesings” verwys na die nommerplate of voertuie wat verby die kameras is, ongeag of dit as verdagte voertuig gemerk is en die “Alerts” verwys na verdagte voertuie wat geïdentifiseer is deur die stelsel.
Deur die gemeenskapsveiligheidsprojek, het ons ook ‘n LPR-kamera by De Plaat Velddrif opgerig. “Die veiligheid van die boerdery gemeenskap maar ook die hele gemeenskap se veiligheid lê ons na aan die hart en dis rusbarend dat Overberg Agri ons hand vat om dit ‘n werklikheid te maak,” het Francois De Jager, voorsitter van die Bergrivier Veiligheidsforum, gesê.
Hulle het huidiglik 50 LPR-kameras wat die hele Bergrivier munisipale gebied dek. Vir die laaste maand alleen het die sisteem gehelp om n dwelmhandelaar met 1.1kg tik te vang, om stropers met R750 000 se kreef te vang, en om lede van ‘n sindikaat te vang wat die boere in Velddrif-omgewing geteister het met sonpaneel- en waterpompdiefstal .
Verder help die Bergrivier Veiligheidsforum gereeld hulle gemeenskap met voedsel en kospakkies en probeer om op ‘n gereelde basis die sopkombuise by te staan — veral in die moeilike tyd wat hulle die laaste twee jaar deur is. Hulle bedryf ook n nood mediese voertuig wat die publiek bystaan in tye van nood.
“Vir elkeen wat betrokke is op watter manier ookal, wil ek baie dankie sê. Ons kry net reg wat ons doen deur saam te staan,” het De Jager gesê.
Ons wil graag al ons kliënte bedank dat hulle ons gehelp het om ‘n bydrae te kon maak tot hierdie Gemeenskapsveiligheidsinitiatiewe,” sluit Francois af.