Topgehalte mieliekuilvoer is noodsaaklik vir winsgewende veeboerdery in die Wes-Kaap. Overberg Agri ondersteun produsente met praktiese raad en beste praktyke om elke fase van kuilvoerbewaring te verbeter. Van die keuse van die regte gewas en die bestuur van droëmateriaal-inhoud, tot behoorlike kap, kompaktering en bedekking – elke stap beïnvloed die eindresultaat. Hierdie gids oor die 6 K’s van Kuilvoerbewaring bied betroubare riglyne om kwaliteit te verhoog, verliese te beperk en voerprestasie in melk- en vleisboerdery te optimaliseer.

Deskundige bydrae deur Lood Visser (regs) | Besturende Direkteur, SAS Southern Agricultural Services | M.Sc. Agric – Dierevoeding
1. Kwaliteit van Gewas (Crop Quality)

Die eerste stap tot suksesvolle kuillaanmaak is om ’n geskikte gewas te kies. Kies hoë-potensiaal voergewasse soos mielies, voersorghum, gras of lusern, afhangend van jou streek en doelwit. Verseker dat lande onkruidvry is en goed bemes is om maksimum opbrengs en skoon materiaal te lewer. Die oestyd is kritiek – gewasse moet op die regte stadium gesny word om die ideale voginhoud te bereik, gewoonlik 63–67% vog inhoud vir mielies en effens hoër vir lusern of gras (met verwelking).
2. Droëmateriaal-inhoud (Content of Dry Matter)

Die vogvlak van die gewas tydens oes beïnvloed die gehalte van fermentasie direk. As die materiaal te nat is, lei dit tot afloop en swak fermentasie. Indien dit te droog is, word kompaktering belemmer en verhoog die risiko van luginsluiting en muf. Mielies moet ’n droëmateriaal-inhoud van 33–37% hê (oftewel 63–67% vog). Lusern en gras, veral as dit verwelk is, moet mik na 35-40% droëmateriaal (oftewel 60-65% vog). Deur hierdie vlakke te monitor, verseker jy suksesvolle fermentasie en veilige stoor.
3. Kaplengte (Chop Length)

Die kaplengte van die voer beïnvloed beide kompaktering en verteerbaarheid. ’n Kaplengte van 1–3 cm is ideaal, afhangend van die gewas se tekstuur en voginhoud. Droër materiaal moet korter gekap word om kompaktering te vergemaklik en lugruimtes te beperk. Die kaplengte moet ook ooreenstem met die oes- en kompakteringstoerusting se vermoëns. ’n Eenvormige kaplengte ondersteun beter pakking en fermentasie, terwyl dit ook optimale verteerbaarheid vir vee bevorder.
Lees meer oor die CLAAS JAGUAR kuilvoerstroper wat presiese kaplengte-verstelling vanuit die kajuit moontlik maak.
4. Kompaktering (Compacting)

Om suurstof uit te sluit is die belangrikste reël van goeie kuilvoer. Die materiaal moet in dun lae van 100–200 mm versprei en deeglik gekompakteer word. Die gewig van die trekker of kompakteringstoerusting moet ten minste 40% wees van die materiaal wat per uur geoes word. Swak kompaktering veroorsaak luginsluiting, verhitting en bederf. Doeltreffende kompaktering skep die anaerobiese toestande wat nodig is vir kwaliteit kuilvoer.
5. Bedekking (Covering)

Na kompaktering moet die kuilvoer so gou moontlik bedek word – binne 48 uur vanaf die eerste vrag. Gebruik UV-bestande wit plastiek, aangesien dit meer hitte weerkaats as donker kleure, en die kuilvoer koeler hou. Dun strekplastiek help om ’n lugdigte seël te vorm. Gebruik bande, sand- of gruisakke om die plastiek vas te hou. Hou diere en water weg van die silo en verseker dat reënwater nie in die bunker ophoop nie.
6. Versorging van die Kuilvoer (Care of Silage)
Na die kuilvoer gemaak is, moet dit goed bestuur word. Die voeroppervlak (silo-face) moet glad en dig gehou word, en slegs die hoeveelheid wat daagliks benodig word, moet oopgemaak word. Vermy langdurige blootstelling aan lug. Muf of bederfde kuilvoer moet verwyder word. Doeltreffende hantering van die voervlak verseker voerkwaliteit en voorkom verliese gedurende uitkuiling.
Vir al jou kuilvoerbedekking-behoeftes — insluitend inokulante, putseile, baaltou, nette en plastiek — kontak asseblief jou Overberg Agri Takbestuurder.

