Hierdie Vroue-maand het ons besluit om met ‘n vroue-boer in die Overberg te gesels oor haar ervaring as ‘n vrou in landbou. Marilize du Toit en haar man, Pieter, boer saam met sy broer Niel op ‘n volwaardige gemengde boerdery in die Bredasdorp-distrik. Die plaas, Hermanusheuwel BK, boer met graan (gars, koring, canola, hawer en aangeplante weidings vir die melkery), vleisbees en skaap, asook 400 koeie in die melkery. Marilize en Pieter woon op die boerdery se melkplaas en helfte van die saaigrond in die Strandveld in die Bredasdorp-distrik.  Niel is gesetel in die Ruens naby Klipdale. Saam maak hulle drie ‘n gedugte span wat fokus op goeie besigheidspraktyk, die plaas en die toekoms.

Marilize en Pieter is in 1999 getroud, net voor Pieter van die familieplaas na die melkplaas in die Strandveld geskuif het.  “Pieter is ‘n BAIE innoverende mens en met die daaglikse boerdery verpligtinge gekoppel met sy passie vir ontwikkeling en uitbou van die boerdery het dit gou duidelik geword dat nog hande nodig is,” sê Marilize.  Sy het in 2000 die melkery se bestuur en admin by hom oorgeneem. Pieter kon dus meer fokus op die vee en saaiery.  Hy het steeds die weiding aanplanting en buite faktore van die melkery hanteer terwyl sy al die admin, dieregesondheid, bulseleksie en melkprosesse hanteer het.  “Ek sal dit altyd as ‘n reuse voorreg beskou dat ek so nou betrokke kon raak in die Du Toits se familiebesigheid.  As stadsmeisie was die melkery vir my ‘n groot uitdaging maar dit het 100% gespreek tot my boekhouer-wortels.  Dit is vir my heerlik om my presiesie op die besigheids-deel daarvan te kan toepas maar aan die anderkant is ek ook mal oor diere en was die massiewe leerskool van fisies boer word vir my ‘n ongelooflike ervaring,” sê sy. Volgens Marilize, mis iemand wat nog nie in afhanklikheid van die natuur geleef het nie uit op iets groot en is dit beslis “lewensveranderend”. In die tyd wat sy dit fisies op grondvlak bestuur het het hulle die melkkudde uitgebou van net oor die 100 na 300 diere dus die stalgemiddeld basies verdubbel.  Sy sê dit was bitter harde werk wat jou baie keer moedeloos laat in ‘n bedryf wat nes jy dink, “Nou het jy dit!”, vir jou weer ‘n ander “curveball” gooi.  Jy moet vorentoe beur op sente wins terwyl jy rentmeester is van baie arbeiders en diere en dan is daar ook jou impak op die natuur.  “Kapitaaluitbreiding is baie moeilik weens baie beperkte winsgrens en die sikliese aard van die bedryf waarin jy nie regtig een, drie of vyf jaar vooruitskattings kan maak nie. Glo my, om te melk hou jou nederig,” sê Marilize. Hulle het in 2015 oorweeg om op te hou melk aangesien die ekonomie van skaal hulle ten spyte van alle positiewe groei eintlik maar ingehaal het. Sy en Pieter was aan die rondbel vir ‘n melktenk om hulle groeiende melkvolume te hanteer tot hulle sou deure toemaak en toe bel Pieter ‘n jaar-of-wat-oue melkmasjien met Afikim-beheerstelsel raak. “En die volgende oomblik bou ons stal en skuif ons doelpale weer ‘n keer hoër,” sê sy.  Vandag melk hulle 400 bees en maak vroulike nageslag groot op die plaas wat eens gesukkel het om die 100 diere te hanteer. Ondertussen het hulle ook ouers geword van twee “pragtige meisiekinders”. “Hulle was al van week oud af op my rug of in ‘n pram saam met my in die stal en op die plaas, maar hoe ouer hulle word was dit duidelik dat my tyd fisies in die melkstal vir ‘n hoofstuk of wat van ons boek eers verby is, want kinders deur die skool sit oor ‘n afstand verg nogal inset,” verduidelik Marilize. Hulle het in 2017 ‘n melkery bestuurder aangestel, maar die melkery bly steeds haar verantwoordelikheid en sy doen steeds al die administrasie, beplannings, genetika, ens. daarvan.

Marilize du Toit landbou

Sy noem dat sy ook in die maer jare gehelp het met ander aspekte op die plaas en vandag kan sy sê sy het letterlik al alles gedoen “behalwe ploeg en lorrie ry”. En al was sy voltyds van 2000 tot 2019 een van die plaas se stroperdrywers, erken sy laggend met skaamte, “Ek moet erken, ek kan steeds nie met ‘n wa agteruit ry nie.”  Marilize sê stroperry is van haar beste herinneringe ooit.  “Om douvoordag saam met die span in te val en oggendure saam met hulle klaar te maak en alles van die oes eerstehands te beleef sal altyd een van my hoogtepunte wees.” Oestyd is egter ook haar kinders se eksamen-tyd en alhoewel hulle “twee baie wakker koppies is”, was dit net nie meer moontlik om ‘n afwesige Mamma en Pappa daardie tyd van die jaar te wees nie, sê Marilize. “Ek is my skoonpa, man en swaer ewig dankbaar dat hulle my toegelaat en hiermee vertrou het. Ek kan darem sê ek het heelparty van die Claas stropers wat ons by Overberg Agri gekoop het bestuur van die Mega 98 tot die Claas Lexion 760.

Buiten die melkery hanteer Marilize al die finansies en administrasie van die boerdery. Sy het ‘n BTech-graad in Finansiele Inligtingstelsels agter haar naam en het nog altyd geweet rekeningkunde en besigheid is haar passie. “Weereens kan ek net dankie sê dat ek hierdie platform gekry het om my beroep te beoefen. Ek dink ek sou bietjie bietjie doodgegaan het as ek iewers in die stad moes ouditeur wees,” sê sy. Marilize doen al van net voor hulle troue die plaas se boeke en net soos hulle besigheid oor die jare gegroei het, het die administrasie en regulasie-lading net so gegroei.  Sy hanteer al hulle entiteite se boeke tot op proefbalans stadium, hardloop die dag-tot-dag van die besigheid, en hanteer die menslike hulpbronne. Sy is selfs Pieter se “personal assistant”. Sy is mal oor die uitdaging van haar werk, want sy werk met so ‘n wye veld aspekte. “Om getroud te wees met iemand wat daagliks ‘n nuwe geleentheid soek maak dat ek ook groei en leer in die proses om planne in praktyk uitvoerbaar te maak,” sê sy. Marilize is bewus dat sy nooit aan soveel blootgestel sou wees, soos wat sy daagliks dankbaar is om te wees, as sy iewers anders in die finansiële sektor gewerk het nie. “Pieter en Niel is twee uitstekende boere wat sukses behaal in die bedryf en hulle besigheid. Ons het al baie vir mekaar gesê hoe dankbaar ons is vir die kombinasie van hulle ingebore passie en toewyding en my finansiële bydrae — dit het beslis ons besigheid oor die jare momentum gegee al was ons ook hoe diep in die verknorsing,” sê sy.

Laaste maar nie die minste het Marilize ook twee selfsorg gastehuise, Bergen Dam en De Melkportaal cottage, by hulle op die plaas. Sy sê haar skoonpa, Niel du Toit, het altyd vir haar gesê, “Ai dis nou lekker om so ‘n hobby te hê!” “Dis beslis nie net meer ‘n stokperdjie nie, maar het uitgebou na ‘n klein bedryf op sy eie,” sê sy. Dit skep werk, stel gaste bloot aan die pragtige Bredasdorp-omgewing en die basiese meganika van boerdery (en daar is ‘n reuse leemte want mense leef so verwyderd van waar hulle daaglikse bord kos vandaan kom), en dit daag vir Marilize weereens uit om te diversifiseer in haar vermoëns. “Met trots kan ek ook sê dat dit nog ‘n dame tot die landbou laat toetree het met my oudste, Minke, wat haar eie besigheid, Horsing Around, het, wat perde uitritte en interaksiesessies met die perde doen,” sê sy. So saam met grootword neem Minke verantwoordelikheid vir haar passie en stokperdjie, leer sy om ‘n besigheid te bestuur, wat dit vat om kliënte gelukkig te hou, en ook wat sy met haar eie beperkte finansies vir haar en haar besigheid kan doen.

Marilize se paadjie as vrou betrokke in landbou is vir haar tweeledig. “Ek is ‘n boer se vrou maar ook vroue boer.  Die een sou nie werk sonder die ander.”  Sy sê sy het beslis ‘n beter verstaan van haar man se dag-tot-dag, die druk wat op hom rus en sy menswees omdat hy boer en intussen leer sy steeds by hom. As boer weet sy wat die boerdery se beperking is, waarheen hulle werk en hoe hulle beplan om daarby uit te kom. “Ons generasie is nie hier om te myn nie; ons is hier om te belê in die toekoms en ek staan langs die mans en hulle strategie.  Ek dink soms verwag vrouens teveel van die boerdery en dit veroorsaak persoonlike wrywing en onnodige druk op die besigheid,” sê sy.

Marilize sê haar paadjie in landbou was ook nie altyd met ope arms verwelkom nie. “As boere op ‘n plaaslike boeredag vir jou sê dat dit vir hulle grillerig is dat ‘n vrou boer of dat dit net nie reg is dat ‘n vrou so deel is of soveel weet van die besigheid nie, dan moet jy maar jou skouers terugtrek en die lewe reguit in die oë kyk,” sê sy. Sy voeg by dat daar al op haar man geskel is omdat hy haar harde fisiese werk laat doen. “Maar dit bly my keuse,” sê sy en noem dat vrouens ook nie altyd haar keuses verstaan nie en dit ook sommer openlik kritiseer.  “My hartsvriendinne wat my pad en passie ondersteun en verstaan as planne op nippertjie verander of afstel of as ek met ‘n beesmiskol op my klere op die dorp opdaag is vir my kosbaar  want hulle weet dit is belangrik vir my,” sê Marilize. Sy waardeer die boere, raadgewers en besigheidsmense wat sy al oor die jare kon bel vir raad en hulp en wat haar reken as ‘n gelyke.  “My goue reël is leer soveel jy kan en vra as jy nie weet nie. Ek woon werkswinkels, boeredae, ens. by om my op datum te hou,” sê sy. Marilize raai ook ander aan om nooit die krag van “networking” te onderskat nie, omdat dit nie is wie jy is nie, maar eerder wie jy ken. Sy kyk op na vrouens wat ‘n pad stap in die landbou, en sluit nie net primêre landbou hierby in nie. “Daar is deesdae soveel geleenthede vir vrouens in die totale landbou waardeketting. Dis nie ‘n regverdige pad nie en om een of ander rede neem dit nog ‘n bietjie bewys en oortuig om deel te wees daarvan,” sê sy.

Marilize dink egter nie dat daar pogings moet wees om vrouens in die landbou uit te sonder om hulle op te hef nie. “Ek glo ons kan ons man staan in die beroep en dat ons net moet bereid wees om onsself bloot te stel vir enige geleenthede tot uitbou van onsself en die onderskeie bedrywe wat ons verteenwoordig,” sê Marilize. Sy stem saam dat daar tog kopskuiwe gemaak moet word. “Gee daardie meisiekinders wat weens omstandighede die kans het om plaas toe te kom net soveel kans soos die seuns — ek glo dit gaan oor die hart, vermoë, gewilligheid en menswees net soveel as die geslag,” voeg sy by.

Op Marilize se kantoormuur hang ‘n gesinsfoto van haar familie, en op die foto is gedruk, “This farm is more than land and crops. It is our family’s heritage and future”.  Sy sê jy moet nooit die geslagte voor jou se sweet en ure misken nie, omdat wat jy vandag doen slegs moontlik is weens hulle harde werk en opofferinge. “Maak jou generasie se positiewe spoor so groot jy moontlik kan. Doen jou deel vir beplan en deurdink die toekoms om die volgende geslag te help. Kyk na jou dorp en omgewing — niemand van ons is ‘n eiland nie. En gee vrouens ‘n kans. Ons sal help om landbou vorentoe te vat,” eindig Marilize af.