Petru du Plessis is ‘n pruimprodusent net buite Stellenbosch. Hy kom oorspronklik van Ceres, maar is nou goed gevestig as ‘n steenvrugprodusent op Bonne Esperance.
“[Dit] is nie ‘n groot plaas nie, maar ek het vroeg reeds besef dat ons maksimum opbrengs moet produseer, vir elke hektaar pruime wat geplant word,” sê Du Plessis. Hy noem dat daar gewoonlik min kultivars is wat in elke area of op elke plaas perfek aard, so Bonne Esperance het net tussen vyf en ses hoof-kultivars, waarvan dit nie ongewoon is om 50 000 kartonne per kultivar te oes nie.
Hulle het gewoonlik ‘n redelike stabiele klimaat, behalwe vir geweldige sterk suidoostelike of oostelike winde in die groeiseisoen wanneer vrugte aan die bome ontwikkel. Nadat hulle in 2017 baie wind en twee keer hael ervaar het gedurende ‘n enkele groeiseisoen, het Du Plessis besluit om met nette voort te gaan oor rofweg 65% van sy bestaande boorde.
“Dit sou toekomstige hael-probleme kan bestuur, maar veral die sterk winde wat gedurende die groeiseisoen heers kan kalmeer. Die idee was dus van die begin om optimum tonne per hektaar te oes en die getal klas 3-vrugte wat nie uitvoerbaar is nie tot die minimum te beperk,” sê Du Plessis. Volgens hom is daar net een beheerbare faktor vir produsente om winsgewend te bly met die matelose druk weens koste-stygings (buite hul beheer) van brandstof, energie, lone en veral skeepsvrag om hul produkte in die oorsese markte te kry, — en dit is om maksimum klas-1-kartonne per hektaar te bemark en minimum vrugte weg te gooi weens kosmetiese afwykings.
Du Plessis sê Andre Vermeulen en Overberg Agri se kundigheid het saamgesnoer en ‘n fantastiese permanente dakstelsel oor sy bestaande pruimboorde gespan. “Pruime se kruisbestuiwing is van kardinale belang. Ons nette se dak-hoogte is 4.8m om vrye werking van bye toe te laat,” voeg hy by. Omdat daar min inligting bekend was oor steenvrugte en nette het hulle met ‘n Klas-20 kristalnet (verwyder 20% UV lig) voortgegaan, met groen Klas-40 net teen die 45° kantjies om die wind te bestuur. “Ons het nie ‘n hoër klas net oorweeg nie, weens onsekerheid of nette se inpak die vrugte se Brix/suikergehalte sou beïnvloed,” sê Du Plessis. Die klas van ‘n net verwys na die persentasie ultraviolet (UV) lig wat verwyder word. Die skadupersentasie is rofweg die helfte van die persentasie van die Klas (UV). Du Plessis se netstruktuur kan verseker sowat 50% van die windspoed afbestuur. Hy het oor tyd geleer dat iets soos ‘n 5m per sekond wind weinig skade maak aan hulle oop boorde se vrugkwaliteit. Teen 7m per sekonde kan hulle redelike windmerkies begin verwag tydens die groeiseisoen, maar teen 9m en 10m per sekond kan vrugte begin afwaai, heelwat kosmetiese skade voorkom, en selfs blare en groeipunte beskadig word. Volgens Du Plessis is daar dus geweldige stres onder hierdie stormwind-omstandighede en hulle het geleer dat vruggrootte en vruggroei vassteek gedurende die 2 tot 3 dae windstorms wat hulle van tyd-tot-tyd ervaar. Die net-struktuur en nette voorkom nie wind ten volle nie, maar kalmeer die wind sodat daar min of geen windskade in die boorde voorkom nie. ‘n Tipiese 10m sekonde stormwind sal binne-in ‘n netstruktuur afgewentel word na 5m per sekonde, wat geen/min skade bied nie. Hulle het ook gevind, asook die literatuur en navorsingswerk wat op steenvrugte — en ander vrugsoorte — gedoen is, dat die kleur van die nette minder belangrik is as die klas van die nette. “Hoe hoër die klas van nette, hoe meer UV word verwyder en meer skaduwee word op die bome gewerp. Dit het alles ‘n inpak op fotosintesevermoë, vegatiewe groei, kleurvorming en suikergehalte van vrugte,” sê Du Plessis.
Du Plessis en sy span het aanvanklik byekorwe en bestuiwing onder die vaste platdakstruktuur gedoen. “[Dit was] OK, maar het nie die gewenste resultate opgelewer nie. Ons het redelike oeste gehad, maar bye werk minder produktief en bestuif oor ‘n langer periode onder die vaste netstrukture. Dis vir my as steenvrugboer belangrik om die eerste 50% van vroeë blomme te laat bestuif, want dis waar die beste potensiaal vir produksie van groot vrugte lê,” sê Du Plessis. Na twee seisoene, het hulle hul vaste dakstelsel aangepas met hakkies en rekke, sodat hulle elke tweede ry se nette kon losmaak. “Sodoende kon ons die nette net na die groeiseisoen oprol, waarna dit die hele winter in die opgerolde fase vasgemaak is op kabels,” sê Du Plessis. Sowat een week na bestuiwing word die nette weer toegemaak en met hakies in plek gesit, voordat die groot stormwinde in November begin waai. Die oop-en-toemaak is nie ‘n aardskuddende werk nie en kos sowat R4 000 per hektaar om oop te maak, en weer soveel om toe te maak. “Dit is ‘n ekstra koste teenoor ‘n platdak-stelsel of konvensionele oop-stelsel, maar in my opinie heeltemaal die moeite werd om goeie bestuiwing te verseker,” sê hy. Aangesien perskes en nektariens in staat is tot selfbestuiwing, is die oop- en toeskuif van die nette nie noodwendig ‘n probleem tydens bestuiwing nie. “Moderne perske- en nektarienboorde kan dus met ‘n laer dak, sê 4.0m, wegkom en hoef glad nie oop- en toegemaak te word om voorsiening te maak vir bestuiwing nie,” sê Du Plessis.
Nadat hulle die bestuiwing uitgesorteer het, kry hulle bo-gemiddelde produksies vanaf alle pruimboorde onder nette. “Soos vroeër genoem, is ons nette nie geïnstalleer om sonbrand te voorkom nie, maar eerder om primêr die stormwinde te kalmeer en hael te onderskep wat van tyd-tot-tyd val,” sê Du Plessis. Wat hulle egter gevind het, is dat humiditeit onder die netstrukture effe hoër is as hulle kontrole-boorde, baie minder effek het van wind, en dat bome baie beter presteer. Die vegatiewe groei van hulle bome verbeter tot so vlak dat heelwat meer somersnoei nodig word. Die ekstra energie van die bome spoel egter ook oor na vrugteproduksie. “Ons kry groter vrugte en kosmetiese afronding van vrugte is ook baie beter. Soveelso dat ‘n 90% klas-1 uitvoerpersentasie nie ongewoon is nie. Sonder nette sou ons slegs ‘n 75% uitvoerpersentasie kon behaal,” sê Du Plessis. Die vrugte wat uitvoerbaar is, is ook groter en kan beter pryse behaal in die oorsese markte. Waar die bedryfsgemiddelde van pruime ongeveer 4 000 std x 5.25kg kartonne per ha is, kry hulle nou gemiddeld 6 000 of 7 000 std x 5.25kg kartonne per hektaar, terwyl sekere topboorde al meer as 8 000 kartonne per hektaar gelewer het. “Daar is nie ‘n noemenswaardige inpak op suikergehalte van die vrugte nie, minstens nie met klas-20 kristalnet nie, terwyl daar ‘n noemenswaardige vruggrootte verbetering plaasvind, meer loofbeheer nodig is, maar ook ‘n hoër klas-1 uitvoerpersentasie behaal word,” sê Du Plessis.
Du Plessis maak die som oor die negataiewe inpak en koste wat die stormwinde op hulle boorde teenoor die kostes van depresiasie van die nette oor ‘n 10- of 12-jaar tydperk. “In my geval is die inpak van die twee of drie stormwinde gedurende die groeiseisoen te groot om nie die nette op te sit nie,” sê Du Plessis. Hy voeg by dat hulle dit moes opsit, omdat die wind jaarliks “die wins van boorde by die plaashek uitwaai”. In vrugteprodusenrende areas met heelwat minder wind, sou ‘n produsent dus nie nette hoef op te sit teen windskade nie, maar ander areas sou weer nette nodig hê teen hael of teen verwagte sonbrand. Die redes hoekom produsente nette opsit oor boorde verskil dus en daar is nie ‘n “one-size-fits-all”-formule nie.
Du Plessis glo met stygende kostes op plaasvlak, moet produsente probeer om die opbrengs per hektaar te verhoog, en nie noodwendig nog hektare by te plant nie. “Ek glo dus vas dat die gebruik van nette en netstrukture nie ‘n mode is wat gaan verbywaai nie, maar meer en meer gebruik gaan word in die toekoms om winsgewendheid op plaasvlak te verseker,” sê hy. Op steenvrugte is dit vir hom duidelik dat pruimboorde bedek moet word met ‘n netstruktuur wat oopgemaak kan word om bestuiwing te kan akkomodeer. Dis byvoorbeeld minder belangrik op perskes en nektariens wat selfbestuiwend is, en die permanante platdak-struktuur is bv ook ideaal by sitrusvrugte soos pitlose Nadorcots waar mens graag bye en bestuiwing wil voorkom.
Besige Bytjies
Volgens Du Plessis, maak meeste steenvrugboere gebruik van ‘n eksterne byeboer. “Ons besigheid maak gebruik van bestuiwingsdienste uit die Overberg-streek en byekorwe word op ongeveer 30% volblom in boorde uitgeplaas,” sê hy. Normaalweg word daar van twee vlae byekorwe gebruik gemaak, d.w.s. 50% van byekorwe word op 30% volblom ingesit, terwyl die res op 90% volblom ingesit word. “Dit verseker dat bye geïnteresseerd bly in steenvrugbloeisels,” verduidelik Du Plessis. Korwe word gewoonlik een tot twee dae na volblom uitgehaal, so dit is dus nie ongewoon om tydens ideale weer slegs vyf dae se bestuiwing toe te laat nie.
Byebestuur is van kardinale belang onder nette, volgens Du Plessis, en noem dat hulle verkies, in die geval van pruim- en kersieproduksie dat nette oop is tydens die bestuiwingsperiode. “Dit is meer moeite en kostes, maar soos genoem wil ons verseker dat vroeë blomme bestuif word, want dit is waar die vrugte met beste vruggrootte ‘gebore’ word. Die ‘laat blomme’ is feitlik deurgaans die kleiner vrugte,” sê hy.
Du Plessis noem dat die bestuur van bye met konvensionele oop boorde aansienlik makliker is as boorde waar nette permanent toe is. “In die geval van pruime en kersies volg ons dus ‘n middeweg deur tydig die nette op te rol sodat bye relatief ongesteurd kan werk,” sê hy. Dit is wel moontlik om bestuiwing te handhaaf met toe nette, maar dit verhoog die risikos vir byekorwe, asook vrugset. “Indien nette dan wel toe is werk dit beter wanneer die netstruktuur lekker hoog is om bye vryhoogte te gee om vrolik te werk. Dit werk ook beter om byekorwe in die aand in boorde in te bring, omdat bye dan rustiger is,” noem Du Plessis. Volgens hom, gee kleiner blokke met permanente netbedekking verder meer “kopsere”, terwyl groot blokke van 20 ha of groter weer minder bye in die hoeke vasjaag. Op warm dae word bye se beweging na waterbronne aan bande gelê, so dit is krities noodsaaklik om relatief naby aan korwe ‘n waterbron te skep. “Al is dit net ‘n paar plassies op die grond, uit ‘n drupperlyn,” sê Du Plessis..
Hy sê hy verkies definitief die lae-risiko opsie van opgerolde nette as dit kom by die bestuiwing van pruime en kersies. “Net nadat byekorwe uitgeneem is, kan daar begin word om die nette toe te maak en wind en weer te bestuur. Op perskes en nektariens mag nette vir die hele jaar toe wees en geen ekstra oop-en-toe aksies is nodig om bestuiwing te bevorder nie,” sluit Du Plessis af.