Herkouersdag Overberg 2026
Praktiese insigte vir volhoubare en winsgewende veeproduksie
Die Herkouersdag Overberg, wat op 13 Augustus 2026 by Roodebloem Proefplaas aangebied is, het produsente, kundiges en bedryfsvennote bymekaar gebring om praktiese kennis oor veeproduksie te deel. Die program het gefokus op volhoubare produksiestelsels, bek-en-klouseer, lamproduksie, wolmarkte, plaaslike produksiedata en die ekonomiese waarde van ’n veevertakking.
Die dag het navorsing, markinligting en praktiese boerderykennis gekombineer om produsente te help om beter besluite binne hul produksiestelsels te neem. Hieronder is die aanbiedings wat van die dag beskikbaar is.
Koolstofvoetspoor: Volhoubare gewasproduksie met vee en weidings
Prof Pieter Swanepoel
Prof Pieter Swanepoel het gefokus op die rol van vee en weidings binne klimaatslim en volhoubare produksiestelsels. Die integrasie van vee, wisselbou en weidings kan insetafhanklikheid verminder, grondprosesse ondersteun en die koolstofvoetspoor van gewasproduksie verlaag.
Bek-en-klouseer: Die huidige realiteit en die pad vorentoe
Dr Muller Strydom
Dr Muller Strydom het die huidige bek-en-klouseer-situasie, lesse uit die verspreiding van die siekte en veranderende beheermaatreëls bespreek. Die fokus was veral op inenting, biosekuriteit, naspeurbaarheid en die rol daarvan in toekomstige beheer.
Die beter produksielam: Sal jy hom herken as jy hom sien?
Prof Andy Hentzen
Prof Andy Hentzen het gekyk na wat ’n goeie produksielam definieer, met fokus op groei, voerdoeltreffendheid, bouvorm en seleksie. Hy het ook beklemtoon hoe genetika en aangepaste produksiestelsels gebruik kan word om aan markvereistes te voldoen.
Wolmarkte en tendense: Wat beteken dit vir die skaapboer?
Isak Staats
Isak Staats het wêreldwye wolmarkte, produksietendense en die herstel in wolpryse bespreek. Die aanbieding het ook volhoubare wol, naspeurbaarheid en die invloed van aanbod, vraag en geopolitieke onsekerheid op die vooruitsigte vir 2026–27 uitgelig.
Data uit die Overberg: Beter besluite vir veeproduksie
Hannelet Jordaan
Hannelet Jordaan het plaaslike Overberg-data oor wol, liggaamsgewig, speengewig en reproduksie ontleed. Die data wys hoe langtermynrekords produsente kan help om beter seleksie- en bestuursbesluite te neem.
Top Herkouer: Die Voermol Simbiose
Cornelius du Plessis (Voermol)
Cornelius du Plessis het die Voermol Simbiose en die waarde van ’n geïntegreerde benadering tot voeding uitgelig. Die aanbieding het ook op kwaliteit, diens en die waarde van langtermynverhoudings binne die produksiestelsel gefokus.
Die winsgewendheid van ’n veevertakking: Verander jou perspektief
Ruben Badenhorst (Overberg Agri)
Ruben Badenhorst het gewys dat die waarde van ’n veevertakking verder strek as die sigbare netto marge. Voordele soos kontantvloei, finansieringsbesparings, stikstofkrediete, wisselbou, grondgesondheid en risikoverspreiding dra tot die waarde van die totale produksiestelsel by.