NAMPO Oesdag is die grootste privaat georganiseerde landbougeleentheid in die suidelike halfrond. Sowat 80 000 betrokkenes by die landbousektor sak jaarliks op die Vrystaat toe om die 670 uitstallings gade te slaan. En vanjaar was geen uitsondering nie. Onder andere danksy die uitstekende weer het ’n skare van 81 345 dié handelskou en gewilde bymekaarkomplek vir landbouers besoek.
Die geleentheid stel produsente en ander rolspelers in die landboubedryf in staat om die jongste tegnologie en produkte op boerderygebied persoonlik te ervaar. Graan SA beskou ook die Oesdag as een van die grootste bydraers tot die versekering van volhoubare voedselproduksie in Suider-Afrika. Die paneelbesprekings by die geleentheid stimuleer gewoonlik landbougesprekke tussen belanghebbendes van verskillende instansies en politieke agtergronde.
Vanjaar se besprekings was besonder interessant en het gehandel oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe, van grondhervorming tot wat nodig is vir die landbousektor en die land se ekonomie om te groei. Daarbenewens was daar ook ’n aantal gesprekke oor staatsbetrokkenheid, waaronder finansiering vir swart boere, markuitbreiding, die winsgewendheid van die sektor, ’n nasionale gewasversekeringsubsidie, vaardigheidsontwikkeling, die verbetering van infrastruktuur, en navorsing oor die klimaat.
Al die paneelbesprekings kan op die webtuiste http://www.nasieingesprek.co.za/ besigtig word.
Graan SA het verlede jaar ’n ooreenkoms met Bredasdorp Park, ’n maatskappy sonder winsoogmerk, onderteken om dié handelskou vir die eerste keer in die Wes-Kaap aan te bied. Die geleentheid was ’n reusesukses en het uitstekende landbouinligting aan alle belanghebbendes verskaf. Vanjaar se NAMPO Kaap vind van 4 tot 6 September plaas, weer in samewerking met Bredasdorp Park.
Hier sal Kaapse produsente die geleentheid hê om met mekaar te gesels, pryse en gehalte te vergelyk en boerderywenke uit te ruil – en terselfdertyd aan uithalerkos te smul.
Ons sien jou graag daar!